Exxon Mobil in die sop oor sy Guyana-vennoteJuly 15, 2023

Amerikaanse regeringsamptenare het, volgens ‘n spesiale berig deur Reuters, Exxon Mobil herhaaldelik gewaarsku om sake te vermy met twee mynmagnate in Guyana. Die twee staar ‘n ondersoek, en sanksies, in die gesig oor vermoedens van geldwassery, dwelmhandel en goudsmokkelary. Maar, die Texas-gebaseerde oliereus het die advies geïgnoreer en ‘n ooreenkoms gesluit om ‘n logistieke basis van 300 miljoen Amerikaanse dollar aanlandig te bou met ‘n konsortium wat die twee Guyanese sakemanne, Nazar Mohamed en sy seun, Azruddin insluit. Exxon het die kontraktoekenning in April 2022 aangekondig. Die Mohameds het noue bande met Guyana se president en sommige kabinetslede en die land se regering beheer toegang tot die groot en nuut ontdekte oliereserwes langs die Suid-Amerikaanse nasie se kus. Die Mohameds, eienaars van Mohamed’s Enterprise, het meestal op goud en buitelandse valuta gefokus voordat hulle die afgelope jare na olie uitgebrei het en die winsgewende ooreenkoms van Exxon verkry het.