Daar’s steeds baie honger kinders in Namibië, maar oorgewigsyfers neem ook toe

Die jongste verslag deur die VN se kinderfonds, Unicef, saam met die Wêreldbank en die Wêreldgesondheidsorganisasie, toon dat 148,1 miljoen kinders onder die ouderdom van vyf nie genoeg groei nie en 45 miljoen ver ondergewig is, as gevolg van voedseltekorte. Die groter meerderheid van die kinders kom in Asië en Afrika voor. In Namibië se geval, het die land verbeter sedert 2012 toe die vlakke van kinders wat nie voldoende groei aanteken nie, bo 30 persent, of baie hoog, was. Tien jaar later, het die land verbeter en die vlakke is tans op medium, of tussen 10 en 20 persent. Intussen het die hoeveelheid kinders onder die ouderdom van vyf wat oorgewig is, toegeneem. In 2012 was die vlak baie laag, onder 2,5 persent, en in 2022 het dit gestyg na medium, tussen 5 en 10 persent. Ondervoeding bly steeds ‘n groot uitdaging in die land met 45 kinders wat sedert Januarie in Omaheke dood is as gevolg van wanvoeding.