Opul-lande verdien N$16,7 triljoen in 2022
Olie-produserende lande het in 2022 reuse-inkomste aangeteken, nes oliemaatskappye. Die Amerikaanse Energie Inligting-administrasie skat dat Opul-lede sowat 888 miljard Amerikaanse dollar, of 16,7 triljoen Namibiese dollar, aan netto olie-uitvoerinkomste in 2022 verdien het. Die inkomste het met 43 persent teenoor 2021 gestyg. Totale olieprodukse is op 34,2 mijloen vate daagliks gemeet. Iran en Venezuela, wat sanksies teen hulle olie het, het ook meer in 2022 geproduseer met Iran wat 15 miljard Amerikaanse dollar verdien het en Venezuela wat 2 miljard Amerikaanse dollar verdien het. Saoedi-Arabië produseer die meeste ru-olie onder Opul, 35 persent van totale produksie, en die land het 311 miljard Amerikaanse dollar, of 5,8 triljoen Namibiese dollar, in 2022 verdien. Saoedi besnoei nou sy olieproduksie met ‘n miljoen vate daagliks omdat hy ‘n prys van 80 Amerikaanse dollar ‘n vat nodig het om sy fiskale verantwoordelikhede na te kom. Die Amerikaanse administrasie voorspel ‘n daling in totale inkomste vanjaar na 656 miljard Amerikaanse dollar, of 12,3 triljoen Namibiese dollar.