Vyfmylpoort op die N7 steeds gesluit

Die N7, by Vyfmylpoort, ongeveer 10 kilometer suid van Vioolsdrif in die Noord-Kaap is steeds gesluit weens onlangse oorstromings. Owerhede het die pad wat erg beskadig is reeds Donderdag gesluit. Sanral in Suid-Afrika sê dat selfs wanneer die vloedwater terugsak, ontwrigting voort sal duur aangesien noodspanne ontplooi moet word om die padoppervlak te herstel. Persone wat van voorneme is om na of van Namibië oorgrens te reis word aangeraai om die Alexanderbaai-grensoorgang via die Steinkopf-kruising na Port Nolloth langs die R382-pad te gebruik. Dit is nie duidelik hoe lank die roete gesluit sal wees nie.