Veldbrande in Kanada: 600m ton koolstof vrygestel
Kanada beleef sy ergste brandseisoen in menseheugenis en het in die eerste ses maande van die jaar meer aardverwarmende koolstofdioksied in die lug vrygestel as enige ander volle jaar op rekord. Dit is volgens die Europese Unie se Copernicus Atmospheric Monitoring Service. Sedert Dinsdag voer brandbestryders in die land ‘n stryd teen 494 veldbrande en meer as die helfte hiervan word geklassifiseer as buite beheer. Die EU sê honderde veldbrande sedert vroeg in Mei het byna 600 miljoen ton koolstofdioksied vrygestel wat gelyk is aan 88 persent van Kanada se totale kweekhuisgasvrystellings in 2021.