Regering kort N$924m vir aandeel in Hyphen

Die Namibiese regering het 40 miljoen euro, of net meer as 924 miljoen Namibiese dollar nodig om ‘n 24 persent belang, wat hy aangebied word in die Hyphen Green Hydrogen-projek, te verkry. Volgens wat berig word, sal die regering die fondse kry deur ‘n nuutgestigte soewereine welvaartfonds, die SDG Namibia One Fund. Dit is volgens die kommissaris vir groenwaterstof, en presidensiële ekonomiese adviseur, James Mnyupe. Namibië en Nederland het ook ‘n brief van voorneme onderteken oor ‘n visumvrystellingsooreenkoms vir amptelike en diplomatieke paspoorthouers. Die afvaardiging wat die Nederlandse premier, Mark Rutte, en die premier van Denemarke, Mette Frederiksen, insluit, vertrek vandag na Suid-Afrika om met President Cyril Ramaphosa ook oor groenwaterstof, hernubare energie, en billike energie-oorgang te gesels.