Noordwes bevestig twee cholera-gevalle
Die Gesondheidsdepartement in Noordwes het twee laboratorium-bevestigde gevalle van cholera in die provinsie aangekondig. Die uitbreking, wat die lewens van 24 mense geëis het, was die afgelope weke hoofsaaklik in Noord-Gauteng en die Vrystaat met een geval wat in Limpopo bevestig is. Die gevalle in Noordwes is in die Bojanala-distriksmunisipaliteit geïdentifiseer. Volgens die departement se woordvoerder, Tebogo Lekgethwane, is hierdie gevalle nie verbasend nie, aangesien dit naby aan Hammanskraal is, waar talle gevalle aangemeld is. Pogings word aangewend om die verspreiding te beperk en te bestuur.