Stygende seevlakke is rampspoedig vir eilandstate

Die Wêreld Meteorologiese Organisasie het sy kommer uitgespreek oor die uitwerking wat smeltende see-ys op seevlakke, natuurrampe, ekostelsels en ekonomieë kan hê. Die Verenigde Nasies se weeragentskap waarsku gletsers en ysplate wat in Groenland en Antarktika smelt, dra 50 persent by tot die stygende seevlak. Dit smelt al vinniger en het ‘n rampspoedige uitwerking op klein, ontwikkelende eilandstate en digbevolkte kusgebiede. Die organisasie se sekretaris-generaal, Petteri Taalas, sê die instelling van die 2015-Parysklimaatsooreenkomste en vermindering van kweekhuisgasse is noodsaaklik.