Cassingadag môre vlugtig by Helde-akker herdenk
Die Namibiese inligtingsministerie het laat namiddag eers die program vir die herdenking van Cassingadag vir môre aangekondig, nadat ‘n woordvoerder van die ministerie aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig het dat net Onafhanklikheidsdag en Helde-dag amptelik deur die regering gevier word. Verrigtinge vir Cassingadag vind om nege-uur môreoggend by die Helde-akker in Windhoek plaas en dit sal net ‘n uur duur. Die hoofrede sal deur ‘n oorlewende van Cassinga, ambassadeur Grace Uushona gelewer word met die Khomas-streeksgoewerneur Laura McLeod-Katjirua wat die kranslegging sal waarneem. Jaarliks op 4 Mei word die sowat 600 slagoffers van die Cassinga-slagting in 1978 in die suide van Angola onthou.