Namibië en Botswana fokus op hernubare energie in Kaza
Namibië en Botswana as deel van die Kavango-Zambezi Oorgrens-bewaringsgebied, bekend as Kaza, het ‘n energie-doeltreffendheids-netwerk in Kasane, Botswana, bekendgestel. Die projek is daarop gemik om 12 ondernemings in die Chobe-distrik by Kasane en lodges in die Zambezi-streek, veral dié langs die Choberivier, by te staan om geskikte energie-besparende tegniese oplossings te identifiseer. Die ondernemings en lodges sal ook van kundige inligting oor beskikbare hernubare energie voorsien word. Die ondernemings het bevestig dat dit op die lang termyn sal help om hul elektrisiteitskoste te verlaag. Na twee jaar se werk met ondernemings in Namibië en Botswana, sal die projek na die ander Kaza-lidlande, Angola, Zimbabwe en Zambië uitgebrei word.