Pickering is nuwe uitvoerende direkteur in justisie-ministerie

Gladice Pickering is vanaf 1 Februarie as die uitvoerende direkteur in die Namibiese ministerie van justisie aangestel. Pickering vervang die voormalige uitvoerende direkteur, Issaskar Ndjoze, wat in 2020 afgetree het. Volgens die kabinet-sekretaris, George Simataa, sal Pickering vir ’n vaste termyn van vyf jaar as uitvoerende direkteur dien. Pickering is tans die maatskappy-sekretaris by die Namibiese Nasionale Herversekeringskorporasie, NamibRe, en sy het voorheen gedien as uitvoerende direkteur van die justisie-ministerie vanaf Januarie tot Julie 2021 en as adjunk vanaf November 2016 tot Desember 2020. Sy het vir meer as 20 jaar by die ministerie gewerk.