Rooies se saak om vrylating weer in die hof vandag
Oud-landdros Walter ‘Rooies’ Mostert, se hoërhofaansoek om sy vervolging permanent ter syde te stel, sal vandag voor regter Orben Sibeya voor kom. Mostert sê in sy stukke dat onder andere, die uitgerekte vertraging in sy vervolging, sowel as aantygings van meineed deur getuies en dat hy in ‘n lokval gevang is, beteken hy word onwettig vervolg en sy regte word geskend. Daar is op 20 Oktober deur regter Collins Parker bepaal dat Mostert sy hoofargumente teen 4 November moet indien en dat die respondente, wat die aanklaer-generaal, die polisie en meer insluit, teen 8 November hulle hoofargumente moet indien. Die staat se hoofargumente is wel ingedien maar, was laat, op 18 Januarie. ‘n Aansoek om kondonasie van die laat indiening is ook reeds geliasseer. Mostert dagvaar die aanklaer-generaal, die Namibiese polisie, die Teenkorrupsie-kommissie en die landdroshof, onder andere.