VN beoordeel skade van sikloon Chido in Mosambiek
Die Verenigde Nasies beoordeel die omvang van die skade wat sikloon Chido in die noorde van Mosambiek aangerig het. Derduisende mense is ontwortel, insluitend meer as 90 000 kinders. Die storm het volgens berigte 35 000 huise beskadig, 186 klaskamers vernietig en lewensbelangrike infrastruktuur geraak, soos gesondheids- en watergeriewe. Stephane Dujarric van die VN sê bykomende befondsing word benodig om humanitêre pogings te steun.