Bibi getuig in sy korrupsieverhoor
Israeliese premier Benjamin Netanyahu het Dinsdag vir die eerste keer in sy langdurige korrupsieverhoor getuig, en gesê hy word op jag gemaak oor sy aggressiewe veiligheidsbeleid. Hy is Israel se eerste sittende premier wat van ‘n misdaad aangekla word. Verlede week het regters beslis dat Netanyahu, wat in 2019 aangekla is, drie keer per week moet getuig. Hy sal vandag verder getuig. Netanyahu is aangekla in drie sake wat geskenke van miljoenêr-vriende behels en omdat hy na bewering regulatoriese gunste vir mediamagnate gesoek het in ruil vir gunstige nuusdekking. Hy ontken enige oortreding en het onskuldig gepleit.