Optimisme heers oor RNE se eerste 100 dae: Everest Wealth

Everest Wealth berig die regering van nasionale eenheid word optimisties beskou na sy eerste 100 dae. Uitvoerende hoof, Thys van Zyl, sê die ekonomiese sentiment het verbeter en word aangedryf deur hervormings. Dit sluit belangrike aankondigings van verskeie ministers in, insluitend openbare werke-minister, Dean Macpherson, oor belegging in infrastruktuur, en binnelandse sake-minister, Leon Schreiber, oor visumhervormings. Van Zyl waarsku egter hoewel die regering se fokus op hervormings markvertroue laat verbeter, is politieke bestendigheid deurslaggewend om hierdie winste te behou.