Darius Rucker ontvang ster op Hollywood Walk of Fame

Die rock- en countryster Darius Rucker het vroeër hierdie maand ‘n ster op die Hollywood Walk of Fame ontvang.

Rucker se ster was die 2 766ste wat aangebring is. Rucker het by die seremonie gepraat en sy orkes, bestuurders, familie en kinders bedank.

Rucker het eers in die musiekbedryf geslaag as hoofsanger en ritmekitaarspeler van die groep Hootie & the Blowfish, wat meer as 25 miljoen albums wêreldwyd verkoop het. Sedert hy sy eerste Country-album in 2008 vrygestel het, het Rucker ‘n hele nuwe legio aanhangers gekry met vier nommer-een albums op die Billboard Country-kaart.

Hootie & the Blowfish sal in 2024 terugkeer na die verhoog wanneer die viertal die Summer Camp with Trucks Tour saam met gaste Collective Soul en Edwin McCain aanpak.

Foto: Verskaf