61 migrante vermis aan Libië-kus

Een-en-sestig migrante word vermis en is vermoedelik dood nadat hul boot aan Libië se kus gesink het, het die Internasionale Organisasie vir Migrasie gesê in die jongste migrante-tragedie in Noord-Afrika. Die “groot aantal migrante” het vermoedelik gesterf weens hoë golwe wat hul vaartuig oorspoel het nadat dit van Zuwara, aan Libië se noordwestelike kus vertrek het, sê die IOM se Libië-kantoor in ‘n verklaring. Daar was ongeveer 86 migrante aan boord, volgens oorlewendes. Flavio Di Giacomo, ‘n woordvoerder van die organisasie, sê dat meer as 2 250 mense tot dusver vanjaar op die sentrale Mediterreense migranteroete gesterf het.