Fima-konsultasies begin vandag
Die finansministerie sê die openbare konsultasies oor standaarde en regulasies wat bedoel is om uitgereik te word kragtens Hoofstuk 5 van die Wet op Finansiële Instellings en Markte, bekend as Fima, begin vandag. Dit is die eerste rondte en vind in die Kunene- en Hardap-streke plaas. ‘n Tegniese advieskomitee oor standaarde en regulasies, bestaande uit kundiges in die finansiële, arbeids- en pensioensektore, is saamgestel om te verseker dat regulasies wat finansiële instellings en markte beheer billik en bevorderlik is vir die groei en stabiliteit van die finansiële sektor. Die publiek word aangemoedig om deel te neem. Die konsultasies kom na die sperdatum vir die finalisering van Fima reeds verby is. Die minister, Ipumbu Shiimi het op 16 Mei die komitee ses maande gegee om die oorsig te voltooi. Die omstredenheid handel oor die onttrekking van pensioengeld voor aftreeouderdom.