Polisie trek ‘aanlyn roofsindikaat’ vas
Die polisie in Gauteng het ses verdagtes in hegtenis geneem wat vermoedelik deel is van ‘n aanlyn roofsindikaat wat in Tshwane bedrywig is. Hulle word by meer as twaalf sake betrek, insluitende motorkaping, moord, gewapende roof en ontvoering. Die arrestasies volg nadat die polisie ‘n advertensie op sosiale media vir ‘n VW Polo gemonitor het. Dit het gelei tot die arrestasie en terugkry van vuurwapens, ammunisie en selfone. Die woordvoerder van die polisie, Mavela Masondo, sê ‘n e-taxibestuurder, wat daarvan verdink word dat hy die sindikaat tydens hul misdade vervoer het, is ook in hegtenis geneem. Masondo verwag meer arrestasies aangesien die ondersoek steeds aan die gang is.