NamPower sny Naute-skema se krag af

Die groenskema by die Nautedam is sonder krag wat miljoene dollar in dadel-oeste bedreig. Volgens plaaslike berigte het NamPower die krag afgesny omdat die skema hom ongeveer 4 miljoen Namibiese dollar in onbetaalde kragrekenings skuld. Die skema is onder die beheer van die Namibiese industriële ontwikkelingsagentskap, Nida. Volgens wat berig word sê Wessel !Nanuseb, woordvoerder by Nida, sukkel hulle met hoë produksiekostes, lae pryse vir kommoditeite en beperkte bronne. Nida het ook 148 industriële parke wat meer as 1 000 kleinsake huisves. Druiwe word ook op 54 hektaar by die skema verbou. !Nanuseb sê hulle maak op die oomblik gebruik van alternatiewe kragbronne om oeste so ver as moontlik te beskerm.