9/11 Museum in New York sluit sy deure

‘n Museum in New York wat die storie van die 9/11-terreuraanvalle vertel vanuit die perspektief van die mense wat geraak is, moes sy deure sluit. Vrywilligers het ‘n dag ná die sluiting van die 9/11 Tribute Museum nog artefakte soos die nooddienste se toerusting en dele van die twee vliegtuie wat op 11 September 2001 in die geboue vasgevlieg het, van die perseel verwyder. Besoeke aan die museum het skerp afgeneem van 300 000 per jaar tot sowat 26 000 verlede jaar weens die Covid-pandemie. Daar was ondanks talle gesprekke met die departement van kultuursake in New York geen sprake van ondersteuning vir die museum wat al 16 jaar lank bestaan nie.