Charles as koning geproklameer

Koning Charles III is vanoggend amptelik tot koning geproklameer by ‘n seremonie by die St. James-paleis. Hy het vir die eerste keer sy handtekening as Charles R geteken. Die R staan vir Rex, of te wel koning. Daarna is die eerste openbare proklamasie om elf-uur plaaslike tyd van die nuwe soewereine leier gehou. Dit is tradisioneel deur die Kousband-wapenkoning in die opelug gelees te midde van ‘n trompetgeskal vanaf die balkon van die Friary-vierkant by St. James-paleis. Dit is afgesluit met die sing van “God Save the King” en drie hoera’s. Afsonderlike proklamasies sal môre in Skotland, Wallis en Noord-Ierland gelees word.