45 000 gevalle van masels in Afrika sedert Covid

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie het 26 groot masels-uitbrekings wêreldwyd opgeduik, veral na die onderbreking in roetine inentings wat deur Covid veroorsaak is. ’n Uitbreking in Zimbabwe het vanjaar die lewens van meer as 700 kinders geëis, hoofsaaklik onder godsdienstige sektes wat nie aan inentings glo nie. Afrika-gesondheidstelsels is veral kwesbaar weens ‘n gebrek aan fondse en mannekrag. Daar is vanjaar meer as 45 000 gevalle van masels in Afrika aangemeld, wat meer as 2 300 mense gedood het. Dit is dubbel die aantal gevalle teenoor verlede jaar. Die WGO en Unicef het in 2020 ‘n bewusmakings- en fondsinsamelingsveldtog van stapel gestuur om gapings in inentings wat deur die pandemie veroorsaak is, veral in middel-inkomstelande, te dek, maar het byna geen geld ingesamel nie.