400 pasiënte verskuif na vuur

Die Gautengse Departement van Gesondheid sê meer as 400 pasiënte is uit die Charlotte Maxeke-akademiese hospitaal in Johannesburg ontruim en na ander hospitale in die provinsie oorgeplaas ná ‘n brand Vrydag by die inrigting uitgebreek het. Die Premier, David Makhura, het aangekondig die hospitaal gaan tydelik vir sewe dae gesluit word om die situasie te evalueer voor enige dienste weer gelewer kan word. ‘n Departementele woordvoerder, Kwara Kekana, sê besonderhede oor die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie, maar die toepaslike owerhede het met ‘n ondersoek begin.