2030-teiken sal nie behaal word nie 

Namibië sal sy teiken mis om teen 2030 ‘n geïndustrialiseerde land te word. Dit is volgens die voorsitter van die parlementêre staande komitee oor ekonomiese en openbare administrasie, Natangwe Ithete. Die land se industriële ambisie word verwoord in Visie 2030, wat bepaal dat die land teen die jaar 2030 ‘n geïndustrialiseerde nasie met ‘n hoë inkomste moet wees. Volgens Ithete vaar die land nie goed in vervaardiging nie en verouderde wetgewing en regulasies kelder die sektor verder. Hy sê daar moet ‘n algehele hersiening van die land se onderwysstelsel en belastingregulasies gedoen word om Namibië se mededingendheid te verbeter. Hier is beroeps- en tegniese opleiding volgens hom uiters belangrik.