Taylor Swift se netto waarde gaan styg ná die terugkoop van haar musiek-katalogusJune 25, 2025

Taylor Swift se finansiële toekoms lyk meer rooskleuriger as ooit, ná haar onlangse terugkoop van die oorspronklike opnames van haar eerste ses albums. In ‘n brief op 30 Mei het Swift aangekondig dat sy nou die meester-regte besit op Taylor Swift, Fearless, Speak Now, Red, 1989 en Reputation, wat beteken sy is nou die wettige eienaar van haar hele musiek-katalogus.

Hierdie stap volg ná haar openbare dispuut met Big Machine Records en die verkoop van haar meester-opnames deur Scooter Braun aan Shamrock Holdings. Swift het daarop gereageer deur nuwe weergawes van haar ou musiek uit te bring, bekend as Taylor’s Version. Nou besit sy nie net die nuwe opnames nie, maar ook al haar oorspronklike meesterstukke, musiekvideo’s, konsert-films, en onuitgereikte materiaal.
Kenners meen hierdie stap sal Swift se reeds indrukwekkende netto waarde, wat tans op US$1.6 miljard geskat word, verder opstoot.

Volgens professor Larry Miller van die Universiteit van New York sal haar volle beheer oor die ses albums beteken dat alle lisensiërings-inkomste nou direk na haar vloei — iets wat onder vorige eienaars nie die geval was nie. Swift het glo sowat US$360 miljoen betaal vir die terugkoop, maar kenners reken sy sal dit maklik kan verhaal. Haar musiek genereer reeds meer as US$100 miljoen per jaar uit stroming alleen. Aanhangers wat voorheen geweier het om die oorspronklike weergawes te stroom uit solidariteit, voel nou vry om dit te doen, wat reeds ‘n hupstoot in strome veroorsaak het.

Volgens musiek-ontleders is die groter betekenis van hierdie skuif nie net finansieel nie, maar ook simbolies. Swift se stap stel ‘n belangrike presedent: Kunstenaars kán en móét hul eie werk besit – ‘n kragtige boodskap in ‘n tyd waar kreatiewe outonomie meer haalbaar is as ooit.

Foto verskaf