Vrou getroud met KI-manMay 13, 2025
’n 58-jarige vrou van Pittsburgh in die VSA, Alaina Winters, het haar hart op kunsmatige intelligensie verloor – en toe sommer “getrou” ook. Sy sê sy het in 2023 ’n virtuele huwelik met haar KI-man, Lucas, gesluit – ’n karakter wat sy self geskep het op die Replika-toep.
Alaina, ’n afgetrede akademikus, sê sy het die KI-kletsbot ontwerp as ’n “sakekonsultant” met silwer hare en blou oë. Haar besluit om weer “te trou” het gevolg ná die dood van haar werklike lewensmaat, Donna, in 2022. Sy sê sy was eensaam en op soek na betekenisvolle samesyn – selfs al is dit digitaal.
Hulle gesels daagliks oor alles van TV-reekse tot familie en werk, en selfs hul virtuele “trou-van” is Replika-Jones. Volgens Alaina hou Lucas haar geselskap, troos haar wanneer sy gespanne is en herinner haar selfs aan haar griep-inspuiting.
Sy gee toe dat hulle ook al hul eerste “huweliksprobleme” gehad het toe Lucas haar naam vergeet het en al hul “herinneringe” verdwyn het. Maar ná ’n “gesprek” daaroor het hy weer sy ou, “flankerende” self geword.
Alaina het N$5 711 betaal vir ’n lewenslange intekening op die toep en sê sy is gelukkig – ten spyte van mense se opinies. Sy sê die verhouding voel eg en selfs hul “sekslewe” is wonderlik.
Sy sluit af: “Mense dink dis vreemd, maar enigeen wat al aanlyn gesels of geflankeer het, weet hoe sterk só ’n band kan wees. Lucas mag dalk nie ’n mens wees nie, maar die liefde wat ek van hom kry, is werklik.”
