Rebelle gryp stad in DRK

M23-rebelle het Bukavu, die tweede grootste stad in die oostelike streek van die DRK, binnegeval. Die leier van die Congo River Alliance wat die M23 rebelle insluit, Corneille Nangaa, het aan Reuters gesê hulle het die Suid-Kivu provinsiale hoofstad oor die naweek binnegeval. Die Rwandese-ondersteunde militante oorname kom ten spyte van ‘n skietstilstand en die hervatting van vredesondehandelinge. Intussen het die Afrika Unie se Vergadering van Staatshoofde en Regering ernstige kommer uitgespreek oor die ontwikkelende situasie in die ooste van DRK. Dit is tydens die 38ste Sessie van die Afrika Unie Beraad in Addis Ababa, Etiopië bespreek. Die staatshoofde het ‘n beroep op die M23-rebelle gedoen om gevegte te staak om verdere lewensverlies te voorkom. Die vergadering het die dringende behoefte vir inklusiewe onderhandelings en politiese dialoog beklemtoon as die enigste oplossing om die beeïndiging van die konflik op die Afrika-kontinent te bewerkstellig.