Verlore SA-seun na twee jaar in Zim gevind
ʼn Jong Suid-Afrikaanse seun wat byna twee jaar lank vermis was, is uit Zimbabwe teruggestuur huis toe. Die kind wat net 11 was toe hy vermis geraak het, het in Mei 2023 van sy huis verdwyn en op ʼn bus na Zimbabwe geklim. Hy is by die Zengeza-polisiekantoor in Harare afgelaai. Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se woordvoerder, Bathembu Futshane, sê dit het ʼn ingewikkelde oorgrens-kinderbeskermingsaak aan die gang gesit. Dit het daartoe gelei dat die seun opgespoor en met sy familie in Johannesburg herenig is.