Piesangproewe vorder goed, eerste oes kom later vanjaar

Namibië se landbousektor gaan geskiedenis maak deur sy eerste plaaslik-verboude piesangs in Junie, Julie en Augustus vanjaar te oes, wat ‘n groot ommekeer vir die invoerafhanklike sektor sal wees. Namibië voer jaarliks nagenoeg 7 000 ton piesangs ter waarde van meer as 65 miljoen Namibiese dollar vanaf Suid-Afrika in. Piesangs is die tweede mees verbruikte vrug in Namibië na appels. Tangeni Hangula, die Namibiese Akkerbouraad se vrugte-ontwikkelingsbeampte, sê proefprojekte in die Zambezi-streek het goeie resultate gelewer. Kosmos 94.1 Nuus het met Hangula gesels, wat verduidelik hoekom die proewe belangrik is.