NDBV maak duisende verwaarloosde hoenders van kant

Die Nasionale Raad van die Dierebeskermingsvereniging, in samewerking met die DBV op Springs, het by twee plase met braaikuikens op Delmas ingegryp. Meer as 4 000 verhongerde hoenders is van kant gemaak om verdere lyding te voorkom. Die voëls is dae lank sonder kos gelaat en hulle het kannibalisties geraak en baie is kritiek beseer of dood. Die plaasbestuur het weerstand gebied en inspekteurs het daarna op afgryslike tonele afgekom. Strafregtelike aanklagte vir hierdie uiterste wreedheid sal ingevolge die Dierebeskermingswet ingestel word.