Reuse-ysberg stuur af op Britse eiland

Die wêreld se grootste ysberg stuur af op ‘n afgeleë Britse eiland, wat ‘n moontlike gevaar inhou vir pikkewyne en robbe. Die ysberg, bekend as A23a, is een van die wêreld se oudstes en beweeg noordwaarts vanaf Antarktika na Suid-Georgië, ‘n ongerepte Britse gebied en toevlugsoord vir wildlewe. Ysberge is normaalweg onvoorspelbaar maar die moontlikheid bestaan dat dit teen die eiland kan bots en verbrokkel. Dit is tans 280 kilometer van die eiland af. Suid-Georgië is die tuiste van kolonies koning- en keiserpikkewyne en miljoene olifant- en pelsrobbe.