Drie sterf in een-voertuig ongeluk, 5 beseer

‘n Tragiese motorongeluk Saterdagmiddag op die D3603-pad naby Onekotale-dorpie in die Oshikoto-streek het drie lewens geëis. ‘n 27-jarige man het glo sy pa se wit Nissan Hardbody bakkie bestuur sonder dat hy ‘n lisensie gehad het. Hy het sewe passasiers gehad en het om ‘n draai beheer oor die bakkie verloor, wat die pad verlaat en omgeslaan het. Al die insittendes is uit die bakkie geslinger en Linea Patrus en die twee-jarige Lineekela Omwa Shikomba is op slag dood. Die oorblywende vyf passasiers en die bestuurder is na die Okankolo gesondheidsentrum geneem en later na die Onandjokwe Staatshospitaal oorgeplaas waar nog ‘n passasier, Kakehongo Joseph, 34, aan sy beserings beswyk het. Die beseerde bestuurder is in hegtenis geneem op klagte van strafbare manslag, bestuur sonder ‘n lisensie en roekelose of nalatige bestuur. Hy is in die hospitaal onder polisiebewaking.