UNRWA skort hulp op

Die Verenigde Nasies se agentskap vir Palestynse vlugtelinge, UNRWA, het hulpverlening deur Kerem Shalom, die hoofdeurgangspunt vir humanitêre hulp na Gaza, opgeskort. Gewapende bendes het Saterdag ʼn humanitêre konvooi aangeval. Verlede maand is ʼn konvooi van 109 vragmotors met kos deur gewapende, gemaskerde mans aangeval wat 97 van die vragmotors gesteel het. Die UNRWA-hoof, Philippe Lazzarini, sê die lewering van humanitêre hulp moet nooit gevaarlik wees of in ʼn beproewing ontaard nie. Hy doen ʼn beroep op Israel om seker te maak hulp word veilig na Gaza vervoer.