Goeie pryse behaal by wildsveiling op OutjoAugust 24, 2024

Die Outjo Wildsveiling by die dorp se bekende wildsfees was baie goed bygewoon en ondersteun. Agra Veilings het dit hanteer, daar was talle diere op aanbod en goeie pryse is behaal. ‘n Bastergemsbok-bul het vir 122 000 Namibiese dollar verkoop terwyl die ander bul en twee koeie elk vir 97 000 dollar onder die hamer gegaan het. ‘n Koedoe-bul met 55 duim horings het met strawwe kompetisie op die vloer en aanlyn vir 40 000 dollar verkoop. Swartwitpense het gewissel van 46 000 dollar vir jong verse tot 90 000 dollar vir ‘n bul. Uitdagings met renosters duur voort. ‘n Koei wat op 400 000 dollar aangebied is het ‘n 210 000 dollar bod ontvang en ‘n bul het 200 000 dollar se aanbod gelok. Die twee verkope het oorgestaan. Stropery stoot die kostes vir renoster-eienaars op en maak hulle huiwerig.