Visserye stoom voort ‘weens deurlopende beleggings’

Derek Klazen, minister van visserye en mariene hulpbronne, sê die visserysektor bly een van die beduidende bydraers tot ekonomiese groei, werkskepping, voeding en buitelandse valuta-verdienste. Klazen het by ‘n kabinet inligtingsessie in die hoofstad gesê volgens die Namibië Statistieke Agentskap was die sektor verlede jaar meer as 20 miljard Namibiese dollar werd en het meer as 14 persent van uitvoer-verdienste verteenwoordig. Die sukses van die sektor is volgens hom te danke aan die finansiële belegging wat hulle deurlopend maak in hulpbronopnames, sowel as omgewings- en kus-biodiversiteitsopnames. Die opnames is belangrik vir die ministerie om spesies se biomassa-vlakke te bepaal en die totale toelaatbare vangs vir die kommersieel ontginde visserye vas te stel.