Doeane stop vrou met dosie vol kameelperd-ontlasting

Federale doeane-agente het die planne gepootjie van ‘n Iowa-vrou wat juweliersware wou maak van kameelperd-ontlasting wat sy op ‘n reis na Kenia opgetel het en in haar bagasie na die VSA teruggeneem het. Die vrou het die klein dosie ontlasting verklaar toe sy gekies is om haar besittings te laat inspekteer met haar aankoms op die Minneapolis-Saint Paul-lughawe op 29 September, volgens Amerikaanse doeane en grensbeskerming. Die vrou, wat nie geïdentifiseer is nie, het aan amptenare gesê sy beplan om die gedroogte ontlasting te gebruik om ‘n halssnoer te maak, soos sy in die verlede met ontlasting van ‘n Amerikaanse eland gedoen het. Die agentskap se landbouspesialiste het die kameelperd se ontlasting vernietig.