Nauhaus maak tweede verskyning vandag na R44-ongeluk

Die nadraai van die helikopter-ongeluk op 17 Julie by die Swakopmund-vliegveld is na verwagting weer in die hof vandag. Die 34-jarige Antje Nauhaus verskyn weer vandag na sy op 25 Julie vanjaar in die landdroshof op Swakopmund voorgekom het op klagte van, onder andere, strafbare manslag, bedrog en vervalsing wat sy vermoedelik tussen 29 Junie en 12 Julie vanjaar gepleeg het. Die klagtes hou verband met die helikopter-ongeluk wat die lewens van die 54-jarige vlieënier Jacques Jacobs en die 29-jarige lugvaartingenieur Dirk von Weidts geëis het. Volgens die Namibiese polisie het die eienaar van Namibia Base Aviation, waar Nauhaus werksaam was, die klag aanhangig gemaak. Sy het na bewering dokumente vervals vir die registrasie en toetsvlug van die Robinson R44-helikopter wat deur Golden Game van Johan en Kobus Lombaard, besit word. Die hoof van die vliegtuigongeluk ondersoekdirektoraat Magnus Abraham het aan Kosmos 94.1 bevestig dat daar wel kriminele oortredings was met die R44.