Komitee gaan toesig hou oor SA energie-minister

Die Nasionale Vergadering het die instelling van ‘n ad hoc-komitee goedgekeur, wat onder die portefeuljekomitee oor Openbare Ondernemings toesig sal hou oor die rol van die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa. Dit volg op aanbevelings van die Reëlskomitee. ʼn Verteenwoordiger van die DA, Annelie Lotriet, het haar party se steun toegesê en sê dis ‘n stap in die regte rigting. Lotriet het benadruk dat Suid-Afrikaners aanspreeklikheid verdien. Intussen het ʼn verteenwoordiger van die EFF, Suzan Thembekwayo, beswaar gemaak en voer aan die bestaande komitee is reeds oorlaai en hierdie besluit is ʼn mistasting.