Namibië veroordeel staatsgreep in Gaboen

Die Namibiese regering het die poging tot ‘n staatsgreep in Gaboen en die aanhouding van President Ali Bongo Ondimba en sy gesin vandag veroordeel. In ‘n verklaring deur die ministerie van internasionale betrekkinge, het die uitvoerende direkteur Penda Naanda verklaar die poging tot staatsgreep is ‘n blatante skending van die wetlike en politieke beginsels van die Afrika-unie. Namibië eis die onmiddellike vrylating van President Ondimba, die herstel van grondwetlike orde en die terugkeer van die regering tot burgerlike bewind. Namibië het ook ‘n beroep op die internasionale gemeenskap gedoen om ondersteuning aan die burgers van Gaboen te verleen om ‘n demokratiese oplossing vir die huidige situasie te vind en volgehoue vrede en stabiliteit in die land te herstel.