Gaboense President in huis-arresAugust 30, 2023
Die weermagoffisiere wat vanoggend aangekondig het dat hulle die mag in Gaboen oorgeneem het, sê die President, Ali Bongo is in huis-arres. Die offisiere het die aankondiging op staatstelevisie gemaak, kort nadat die land se Verkiesingskommissie aangekondig het dat Bongo vir ‘n derde termyn herkies is. Die militêre leiers het die verkiesingsuitslae nietig verklaar, en ook gesê dat grense gesluit en staatsinstellings ontbind word. Honderde Gaboenese het die aankondiging in die strate van die hoofstad, Libreville gevier. Bongo het in 2009 as President oorgeneem by sy pa, Omar, wat sedert 1967 aan bewind was. Indien die staatsgreep suksesvol is, sal dit die agtste staatsgreep in Sentraal- en Wes-Afrika sedert 2020 wees. Die jongste staatsgreep het in Julie in Niger plaasgevind.