Japan stel maansending uit weens tifone
Japan se ruimte-agentskap, Jaxa, sê hy moes ‘n beplande lansering van ‘n vuurpyl met ‘n tuig vir sy sending na die maan vandag weens uitermatige sterk winde uitstel. Winde van byna 108 kilometer per uur is op ‘n hoogte van tussen 5 000 tot 15 000 meter waargeneem, sê Mitsjio Kawakami, veiligheidsbestuurder Jaxa. Veelvuldige tifone rondom Japan het die windtoestande beïnvloed. Daar is nog nie op ‘n nuwe datum vir die lansering van die maantuig besluit nie, maar dit sal egter nie later as 15 September plaasvind nie. Mitsubishi Heavy Industries was vir die bou van die vuurpyl verantwoordelik. Die lansering sou vanaf Jaxa se Tanegashima-ruimtesentrum in die suide van Japan plaasvind. Die lansering is sedert verlede week reeds twee keer weens gure weer uitgestel. Japan poog om die vyfde land te word om op die maan te land..