Mislukte Platinum Rhino-veiling ontbloot uitdagings met renoster-bewaring
Daar is kommer in bewaringskringe oor die toekoms van die omstrede renosterteler John Hume se 1 999 suidelike witrenosters wat by Platinum Rhino in Suid-Afrika is. Sy veiling op 1 Mei vanjaar het nie ‘n enkele bod opgelewer nie. Hume het onlangs gesê hy kan nie die daaglikse bedryfskoste bekostig nie. Daar word beraam dat Platinum Rhino se daaglikse bestuur 9 800 Amerikaanse dollar, of net meer as 183 000 Namibiese dollar, kos. Hume se intensiewe en hoëdigtheidsbenadering is ongetwyfeld doeltreffend om renosters te teel, maar met die hoofkwessie tans ‘n tekort aan veilige ruimte vir renosters eerder as ‘n tekort aan renosters, maak die projek se hoë bedryfskoste en kommer oor die rehabilitasie van renosters wat in gevangenskap geteel is, sy toekoms onseker. Die koste van renosterbeskerming is plaaslik ook uitdagend. Boere wat swart-renosters namens die staat huisves, sê ook beskerming raak te duur.