MIV neem toe onder jong Zambiërs

Die Zambiese regering het kommer uitgespreek oor die toenemende aantal nuwe MIV-infeksies onder jongmense tussen 15 en 35 jaar. Terwyl daar vordering gemaak is om MIV as ‘n openbare gesondheidsbedreiging te beëindig, sê die land se gesondheidsminister, Sylvia Masebo, die aantal nuwe MIV-infeksies onder jong mense dreig om die winste wat gemaak is om te keer. Sy sê 50 persent van nuwe MIV-infeksies in 2022 het onder adolessente en jongmense voorgekom en die groep is jaarliks verantwoordelik vir ‘n geraamde 14 000 tot 17 000 nuwe infeksies. Volgens haar was sowat 35 persent van nuwe MIV-infeksies onder babas as gevolg van infeksies by swanger en borsvoedende moeders. Sy skryf die nuwe infeksies onder jongmense toe aan onder andere, dwelmmisbruik en hoërisiko-gedrag.