Elf vas oor onwettige myn van edelstene by Karasburg

Twee Namibiese polisiebeamptes se saak oor onwettige mynbou van kalsedon-edelstene en die oortreding van die voorkoming van die Wet op Georganiseerde Misdaad is tot 8 September in die Karasburg-landdroshof uitgestel. Die 35-jarige Gerson Sheuyange en die 42-jarige Cassey Khakisi is vandeesweek saam met sewe ander mans in hegtenis geneem. Al die beskuldigdes is op borgtog van 10 000 Namibiese dollar elk vrygelaat. Volgens Nampol se koördineerder vir misdaadondersoeke in die Karas-streek, adjunkkommissaris Nikodemus Mbango, is die mans deel van 11 ander beskuldigdes wat in Junie vanjaar gearresteer is vir die onwettige ontginning en versameling van blou en wit gestreepte kalsedon-edelstene op die plaas Ysterputz, geleë 145 kilometer wes van Karasburg. Mbango sê hulle het die kalsedon-klippe verkoop en Nampol het ‘n opbrengs van tot 2,5 miljoen Namibiese dollar ontdek waaruit sommige beskuldigdes voordeel getrek het.