Burgers van Namibië en Botswana kan nou met ID’s tussen nóg drie grensposte reis
Die ministeries van binnelandse sake van Namibië en Botswana het aangekondig dat identiteitsdokumente as reisdokumente tussen Botswana en Namibië vanaf vandag geldig is by nóg drie grensposte. Vanaf 24 Februarie kon burgers van Namibië en Botswana hul identiteitsdokumente reeds by die Mamuno-Trans-Kalahari-grenspos tussen die twee lande gebruik. Nou is dit ook geldig by die grensposte van Ngoma en Kasane en Impalila-eiland in die Zambezi-streek en Mohembo naby Divundu in die Kavango-Oos-streek. Volgens Etienne Maritz, die uitvoerende direkteur in ministerie, is dit egter net van toepassing op nuwe Namibiese identiteitsdokumente wat in Oktober verlede jaar uitgereik is.