Otjozondjupa-polisie op toneel waar plaasaanval gebeur het
Die woordvoerder van die Otjozondjupa-polisie inspekteur Maureen Mbeha het aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig dat die Grootfontein-boer Udo Gardner redelik ernstig beseer is in die plaasaanval wat omstreeks kwart-oor-agt Sondagaand plaasgevind het. Mev. Gardner is lig beseer. Mbeha sê vyf wapens is gesteel sowel as selfone. Die polisie is tans op die toneel besig met die ondersoek. Die vyf gewapende rowers is steeds soek maar, Mbeha sê een was in volle Nampol-uniform met ‘n reflekterende baadjie aan terwyl die ander vier in gewone klere was, maar ook met reflekterende baadjies. Hulle het hulself voorgedoen as polisie-beamptes wat ‘n moord ondersoek.