Nuwe kragtariewe nog nie bekend nie
Die Elektrisiteitsbeheerraad sê hy hersien steeds aansoeke vir tariefverhogings van verskeie plaaslike owerhede, veral vir die wat aansoeke laat ingedien het. Die raad het vroeër die week gesê hy sal Vrydag die eerste goedkeurings aankondig maar, die woordvoerder Ferdinand Molale sê dit word nou eers volgende week verwag. Die raad het intussen bevestig dat hy Windhoek se aansoek vir ‘n 14 persent verhoging ontvang het, sowel as Kalkrand, wat 25 persent vra, Keetmanshoop met 8 persent, Mariental op 9,9, Osire se 12,3 en Oshakati se 10 persent. Talle ander plaaslike owerhede moet nog aansoeke vir verhogings indien. Intussen het Stad Windhoek aangekondig dat hy ‘n beleid geskep het vir kragtariewe. Die beleid is reeds geformuleer en is ook by die beheerraad ingedien vir goedkeuring.