Namibiese afvaardiging kom aan in Rusland vir beraad

Die Namibiese visepresident Nangolo Mbumba het in St. Petersburg, in Rusland, aangekom vir die tweede Rusland-Afrika ekonomiese en humanitêre beraad wat môre en oormôre plaasvind. Mbumba lei die Namibiese afvaardiging, wat die minister van internasionale betrekkinge, Netumbo Nandi-Ndaitwah, insluit; sowel as die ministers van handel, inligting en arbeid. LP’s is ook genooi. Die beraad het ten doel om ‘n nuwe vlak van wedersyds voordelige vennootskap te bewerkstellig en poog om gelyke samewerking oor alle gebiede te bevorder. Daarbenewens sal die Namibiese Beleggingsbevordering en Ontwikkelingsraad beleggingsgeleenthede aanbied op die kantlyn van die beraad. Daar word internasionaal berig dat Rusland se landbou-uitvoere, wat kunsmis insluit, ook onder die loep sal kom tydens die beraad.