Kind steeds vermis ná Jozi-ontploffing

Soek- en reddingspanne soek na ‘n kind wat sedert die ontploffing in die Johannesburgse middestad vermis word. Die Gautengse polisiekommissaris, luitenant-generaal Elias Mawela, het ‘n beroep gedoen op mense wat naasbestaandes vermis om met die polisie in aanraking te kom. Mawela sê sommige mense beweer dat die kind moontlik tydens die ontploffing ondergronds kon beland het. Hy sê die polisie se honde-eenheid help met die soektog. Mawela het mense gevra om weg te bly uit die gebied, en sê dit belemmer die ondersoek na die oorsaak van die ontploffing.